Friday, March 6, 2009

Alexander Graham Bell

Alexander Graham Bell was die uitvinder en vader van die telefoon.
In sy pogings om die eerste ‘harmoniese telegraaf’ te ontwerp en te maak (nadat Samuel Morse 'n paar jaar vantevore telegrafie uitgevind het), het Bell te staan gekom voor die struikelblok dat net een boodskap op 'n keer oorgesein kon word. Hy wou dit oorkom deur die teorie dat daar veelvuldige note in 'n musikale akkoord is, toe te pas. Bell het met Thomas Watson, die eienaar van 'n elektriese winkel, saamgewerk om sy idee van 'n harmoniese telegraaf te verwesenlik. Op 2 Junie 1875 is klank die eerste keer bloot toevallig oor 'n draad oorgesein: Bell, in die sendkamer, het 'n draad wat styf om die elektromagneet vasgedraai was, probeer losmaak. Watson het 'n “trilling” in die ontvangskamer gehoor, en besef dat wat hy gehoor het, die eerste kommunikasie oor 'n draad was. Die volgende jaar, op 10 Maart, het Bell ontdek dat die draad sy weerstand kan afwissel en 'n golfstroom kan produseer as dit gedeeltelik in 'n geleiervloeistof gedompel is. Hierdie deurbraak was die finale stap in Bell se soeke. Watson, in die ontvangskamer, kon Bell se stem perfek hoor, en die paar het besef dat hulle hul doel bereik het. Van toe af het dinge vinnig gebeur, en Bell het die land deurreis om sy nuwe uitvinding te bevorder nadat hy die Bell Telephone Company in 1877 gestig het. Hierdie Amerikaanse maatskappy bestaan vandag nog met die naam AT&T. Die maatskappy moes sy patente telkemale verdedig aangesien ander maatskappye hul eie telefone probeer ontwerp het, maar in al die sake het die opposisie verloor aangesien Bell oorweldigende bewyse kon lewer ter ondersteuning van sy oorspronklike patente. Bell is in daardie jaar met Mabel Hubbard getroud en die twee het vir 'n jaar lank na Europa vertrek. Met finansiële sukses en beroemdheid voor die ouderdom van 35, het Bell sy belange op ander terreine uitgebrei terwyl die Bell Telephone Company bly groei en bloei het. Gedurende hierdie tydperk het hy talle nuttige toestelle en instrumente uitgevind, soos 'n elektriese sondeerder wat metaalvoorwerpe soos koeëls in 'n menslike liggaam kon opspoor. Bell het ook 'n primitiewe kunsmatige asemhalingstoestel in die vorm van 'n metaalvakuumbaadjie ontwerp – hierdie uitvinding het gevolg ná die dood van sy pasgebore seun in 1891 as gevolg van asemhalingskomplikasies. Dit het die prototipe geword van die ‘ysterlong’ van die 1950's ten tye van die polio-epidemie. In daardie jaar het Bell ook die Franse Volta-prys gekry – 'n kontantprys van $10 000 vir sy groot bydrae tot elektrisiteit. Een van Bell se grootste uitvindings (volgens hom) was die “fotofoon” – 'n toestel wat klank kon oorsein deur 'n ligstraal te gebruik. Die fotofoon het 'n seleenkristal en 'n vibrerende spieël gebruik wat op klank kon reageer, en met hierdie toestel is 'n boodskap meer as 180 m ver tussen twee geboue oorgesein. Bell het weer eens die pad vir moderne tegnologie met sy uitvinding gebaan, aangesien die teorie wat hy ontwikkel het later die grondslag vir laser- en veseloptiese kommunikasiestelsels sou vorm. Ander terreine waarop Bell 'n bydrae gemaak het, was ontsouting en waterdistillering, viervlakkige strukture en hul eienskappe, skaapteelt, skeertuie en vliegtuie. Bell was nogal opgenome met die gedagte van vlieg, en het in 1907 die Aerial Experiment Association saam met vier jong ingenieurs gestig. Op 23 Februarie 1909, ses jaar ná die Wright-broers se geskiedkundige vlug in 1903 by Kitty Hawk, het Bell en sy kollegas hul kragaangedrewe vliegtuig – die Silver Dart – met welslae in Kanada geloods. (by Wikipedia) (Picture:www.solarnavigator.net.jpg)

No comments:

Post a Comment

akiraraydanari@gmail.com